Woordeboek van Afrikaans Vandag

Redakteur: Jana Luther | En nog WAT | Podsendings | Help ons

Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en af en toe in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!

Soek in:

famo s.nw. [geen meervoud] (musiek) Ook [met ’n hoofletter] Famo
musieksoort uit Lesotho wat bestaan uit sang en ululerings wat deur ’n trekklavier, ’n trom en soms ’n basinstrument begelei word, veral gewild by sprekers van Sesotho (Suid-Sotho): Famo het ontstaan in drinkplekke waar trekarbeiders uit Lesotho, wat in die 1920’s in myne gewerk het, probeer ontspan het.
ENGELS: Famo


oorsprong:
Van ’n Suid-Sotho-woord vir ’n onwelvoeglike dans, afgelei van famola, om die neusvleuels oop te sper of die vroulike geslagsdele te ontbloot.


samestelling(s):
famo(-)groep, Famo-groep: Van die zama-zamas was in Lesotho deel van famo-groepe (Louise du Plessis, Vrye Weekblad, 13 Januarie 2023).
famo(-)musiek, Famo-musiek: Ek het Zakes Mda se boek Wayfarers’ Hymns gelees waar hy skryf oor famo-musiek en hoe dit oorspoel Suid-Afrika toe (Louise du Plessis, Vrye Weekblad, 13 Januarie 2023). Ek het eendag gevra, luister julle famo-musiek? Hulle kon nie glo ek weet daarvan nie, dit was wonderlik (Louise du Plessis, Vrye Weekblad, 13 Januarie 2023). Mda is ’n storieverteller sonder gelyke. Sy taal is ryk soos donker sooigrond, deurspek met Afrika-idiome en uitdrukkings wat die Engels laat dans. Dit pols van famo-musiek en onweerstaanbare, spektakulêre danse (Deborah Steinmair, Vrye Weekblad, 3 Desember 2021). Famo-musiek is sensueel en gaan gepaard met dans. Die musiek is lifela, hymns. Sal ’n mens dit vertaal as sekulêre psalms? Soms met ’n koortjie, dikwels net praatsing – poësie met akkordionbegeleiding (Deborah Steinmair, 22 Oktober 2021).
famo(-)tradisie, Famo-tradisie: Die famo-tradisie is een van wandelende musikante wat psalms opmaak oor die deugde van hul suster, die skoonheid van die landskap, die veglus en braafheid van mans, die weë van die liefde. Dis in vrye vers, want “big boys don’t rhyme” (Deborah Steinmair, 22 Oktober 2021).


Let wel
As ’n soekwoord nie as trefwoord opgeneem is nie, word dit in ander artikels vertoon, indien dit voorkom. Soek dan met CTRL-F om sulke voorbeelde op jou rekenaarskerm uit te lig. Jy kan ook met spesiale karakters soek. Kyk hier onder.


   En nog WAT – Koop op Amazon


Please note
This dictionary mainly contains words, meanings and expressions that have not yet been included in other Afrikaans dictionaries, together with a collection of language columns, blogs, video inserts and podcasts. If a search word is not included as a headword, examples of the word in other entries (definitions, usage examples, usage notes, etc) are displayed, if they occur. Then search with CTRL-F to highlight such examples on your screen.


Soek met spesiale karakters

SimboolFunksieVoorbeeld
"..."Frase"ten opsigte van"
_Een ontbrekende karaktercal_one
%Enige aantal ontbrekende karakterska%abidiol
/1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in dié volgorde"wat lei"/7
@1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in enige volgorde"wat lei"@7
&Vind al tweevirus & epidemie
|Vind die een of die andervirus | epidemie
#Vind die een of die ander, maar nie al twee nievirus # epidemie

Hierdie woordeboek is aan geen ander woordeboekprojek verbonde nie en word deur niemand geldelik gesteun nie. Dit is ’n onafhanklike inisiatief van die redakteur in haar vrye tyd.

Kopiereg © 2020-2026 Jana Luther